• Francine Beaton

Blou - Blouer - Blouste


Photo: Wix

Blou is die wolke,

blou is die maan,

Blou is die venster waarby ek staan,

Blou is my hart en

Blou my gedagtes

Blou om my heen….

Alles is blou

Alles oor jou.


Ek is tans besig met die vierde boek in die Blouberg-reeks, en dis dié wat blou vandag so in my kop warrel. Ek het reeds Blou Somer, ‘n Stukkie Blou Hemel en Klein Bietjie Blou gepubliseer. Nou ja, dis wat my vandag by blou bring.


Het julle al agter gekom hoeveel gedigte en boeke, selfs skilderye en liedjies verwys na blou oë? Dit is dus geen wonder dat ons soveel keer blou oë in ons romanses gebruik nie, net soos liriekskrywers dit doen. Hoekom? Want blou, soos groen en grys, is raar oogkleure en blykbaar meer aantreklik. Bruin is so algemeen dat dit bes moontlik die minste geromantiseer word.

Dink net maar aan Elton John se “Blue Eyes, met lirieke soos

Baby’s got blue eyes like a deep blue sue / On a blue blue day”.

Of wat van Blue eyes crying in the Rain” deur Willie Nelson? – In the twilight glow I see them, blue eyes cryin’ in the rain…”.

Taylor Swift se “Tim McGraw” is nog ‘n voorbeeld – “He said the way my blue eyes shined put those Georgia stars to shame that night / I said that’s a lie.”


Ons Afrikaanse liedjieskrywers staan ook nie terug nie. As jy lag deur Wouter van de Venter is een so ‘n voorbeeld – en dink aan jou met jou blou oë in die son”. En natuurlik die liedjie Blou wat uit die pen van André Swiegers kom maar deur Laurika Rauch bekend gemaak is. Dit is juis uit hierdie liedjie waaruit die aanhaling hier bo kom. Spoegwolf het ook ‘n liedjie of twee met die naam Lenie Blou en Blou.


In die Afrikaans-Engelse Pharos woordeboek, is daar 571 trefslae vir blou. En, gaan soek maar die woord blou op Google. As jy blou en Afrikaans saam intik, kry jy 5 250 000 uitslae in 0,64 sekondes. Dis reg. Ons hou baie van blou. Dis plekname soos Bloubergstrand, gastehuise (Die Blou Deur en Die Blou Nartjie), restaurante en teaters (die Blou Hond, Blou Ballon). Noem dit op. Iewers pop daar blou op. Ons het dan selfs ‘n Blou Trein.


Volgens die Woordeboek van Afrikaans Vandag word blou so verduidelik:

♦ s.nw.

1 kleur van die sonnige, onbewolkte lug.

2 kleur geassosieer met pornografie. | ENGELS: blue

♦ b.nw.

1 met die kleur van die sonnige, onbewolkte lug.

2 pornografies. | ENGELS: blue

› blou film. Ook (informeel) blou moewie pornografiese film/rolprent: › Ek sou ook kon vertel van die ou wat laataand by Buks insluip, onvas op die voete, en effens te hard vir Buks vra: “Het jy nie vir ’n man ’n bloue nie?” ’n Blou moewie – iets meer pornografies. Sulkes het party videowinkeleienaars agter die toonbank gehou (Dana Snyman, Netwerk24, 5 September 2020).


Volgens Wikipedia is blou een van die drie primêre toevoegende kleure en het blou lig die kortste golflengte van die drie primêre kleure: nagenoeg 470 nanometer. Dis indien julle geïnteresseerd is in onnodige feite maar, ons is skrywers. Ons weet nooit wanneer ons hierdie feite gaan nodig kry nie, dan nie?


Met my soektog het ek agter gekom dat ek nie die enigste Afrikaanse skrywer is wat blou in my titels gebruik nie. Hier is maar ‘n paar ander:

· Die Vrou in die Blou Mantel (Deon Meyer);

· Toe die groot, blou bus laat was (Anita Dall);

· My bloed is blou (Wynie Strydom);

· Skakerings van Blou (Frances Vermaak);

· Blou is nie ‘n kleur nie (Carin Krahtz),



Het julle al gewonder waar kry party kleure hul name vandaan? Party is voor-die-hand-liggend maar kyk byvoorbeeld na Alice-blou. En net daar kom daardie frase wat party maal ingevoeg word as mens te veel gedrink het in die liedjie Living Next Door to Alice. “Alice? ... is Alice?” Jip. Daardie een. Ek gaan dit nie hier gebruik nie want ek weet nie wie lees my blog nie! In elk geval, Alice-blou is ‘n blekerige asuurblou wat ‘n gunsteling kleur was van Alice Roosevelt Longworth, die dogter van Theodore Roosevelt. Dit het blykbaar ‘n mode sensasie in Amerika tot gevolg gehad.


Nou wonder julle na wie verwys celeste blou? Na niemand nie! Celeste is ‘n ligte turkoois blou kleur wat deur die kleur van lug geïnspireer word. Dit is gebaseer op die Italiaanse woord celeste wat hemels beteken. Dit kan met ander ligte bloue vergelyk word wat na skoon dag lug verwys soos hemelsblou en die Japannese kleur sora. (Bron: www.simplicable.com).


En gloukos-blou? ‘n Gloukos is ook bekend as die blou draak, seeswaeltjie of blou engel. Die blou gloukos is ‘n spesie van helderkleurige naakslakke en kan in die Atlantiese, Pasifiese en Indiese oseane gevind word. (Bron: www.oseana.org)


Nou, ek kan nie almal verduidelik nie, want dit gaan my jare neem en gaan ek nooit klaar kry nie.

Photo: Wix

Julle weet, ‘n skrywer het maar ‘n manier om ‘n ding te beskryf maar hoeveel keer kan jy nou ‘n karakter se blou oë beskryf sonder om afgesaag te klink? Neem nou byvoorbeeld, babablou, ysblou, staalblou… Die kan vinnig clichés word, dus is ons heeltyd op soek na nuwe frases – en maak ons sommer ons eie ook op.


Maar hoeveel soorte blou kry mens? Baie meer as net die bogenoemdes. Dus, iewers moet ons ‘n kleur kan vind om blou te beskryf, en ek praat ook nie net van oogkleur nie. Ons moet soms ‘n motor of ‘n hemp of ‘n rok ook kan beskryf of dan ook net blou in die natuur.


Ek het hier ‘n lysie opgestel van verwysings na blou wat ek kon kry. Party kom van verfverskaffers se kleurkaarte en ander van die gewone RGM kleurkaarte. Kyk mens veral na verfverskaffers se kleurekaart, is daar die mooiste blou beskrywings wat jou sommer laat droom van ver plekke en dinge in jou gedagtes optower. Hoekom kan jy nie van hulle gebruik om iets te beskryf nie? Hier is ‘n paar voorbeelde:

Kopiereg: Francine Beaton

aardsblou, adelstandblou, admiraalblou, akwablou, akwamaryn, albasterblou, aliceblou, alikreukelblou, amarant blou, anilienblou, appelblou, aristokratiese blou, asblou, astraalblou, asuurblou, babablou, baftablou, bergblou, bessieblou, bleek-blou, blou-blou, blou-oker, blou-wit, blou, bloubessie blou, bloubessiesap blou, blouerig, blougroen, bloupers, blouselblou, blouskimmel, blouswart, blousysie blou, branderblou, brouersblou, celesteblou, chloorblou, denimblou, diep lugblou, diep- blou, dolfynblou, donker leiblou, donkerblou, droomblou, eende-eierblou, egte blou, eklektiese blou, elektriese stormblou, gentiaanblou, gletserblou, gloukusblou, grasklokkie blou, groenblou, grysblou, haweblou, heideblou, helder lugblou, helderblou, heliotroopblou, hemelsblou, horisonblou, indigo, inkblou, internasionale kleinblou, ivoorblou, jellievisblou, kampioenblou, kanonblou, klein seuntjieblou, kneusblou, kobaltblou, koelblou, koningsblou, koringblomblou, krismisroosblou, kristalblou, kristalviolet, kunstenaarsblou, kwasarblou, lapis blou, laserblou, lasuurblou, laventelblou, leiblou, ligblou, ligte denim, lintblou, lobelia blou, loodblou, lugmagblou, maanblou, mangaanblou, marineblou, medium blou, melkweg blou, middernagblou, mineraalblou (bergblou), mistige blou, mufblou, neonblou, oggendblou, okerblou, olieblou, opaalblou, ouwêreldse blou, paradysblou, parakeetblou, pêrelblou, persblou, pikblou, pimpelblou, plaveiselblou, poeierblou, polisiemanblou, potblou, poublou, prestasieblou, purperblou, rivierblou, rustige blou, saffierblou, salige blou, seeskuim blou, sementblou, seremonieblou, seruleumblou, siaan, siaanblou, silwerblou, sintetiese blou, skimmelblou, skippersblou, skoenlapperblou, smaltblou (kobaltblou), sneeustormblou, sneeuvlokkie-blou, sonnige blou, staalblou, sterreblou, stormblou, stormsee blou, strandmeerblou, styselblou, swartblou, swembadblou, syblou, tandepasta-blou, toermalyn, tripaanblou, tropiese nagte blou, turkoois, tydlose blou, uitgewaste denimblou, ultramaryn, vaalblou, vakansieblou, vergeet-my-nietjie blou, viooltjieblou, vlootblou, vryheidsblou, waterige blou, winterblou, ysbergblou, ysblou, ysterblou,


Maar as jy nou gaan skryf sy kyk diep in sy seruleumblou oë, gaan almal weet wat jy bedoel? Ek is baie seker die lesers wil nie eers ‘n kleurkaart gaan naslaan om voor te stel hoe lyk daardie karakter se oë nie en dit is dus iets wat jy in ag moet neem wanneer jy ‘n besondere kleur wil beskryf.

Buiten dié waarna ek hierbo verwys het, is daar nog heelwat bloue wat na ‘n spesifieke land, see of strand verwys.

Aleksandriese blou, Amsterdam blou, Argentynse blou, Arktiese blou, Atlantiese blou, Atlantiese strandblou, Balkan seeblou, Bangor blou, Bisantynse blou, Bondi-blou, Bremen blou, Bremerblou, Cambridge-blou, Capri blou, Carolina blou, Chinese blou, Kopenhagen blou, Egeïese blou, Egiptiese blou, Franse blou, Germaanse blou, Griekse blou, Han-blou, Hawaise blou, Karibiese seeblou, Maya blou, Nylblou, Oregon blou, Parysblou, Persiese blou, Polinesiese blou, Pompejaanse blou, Portugese blou, pozzelaanse blou, Pruisiese blou (middernagblou), saksiesblou, Savoje-blou, Spaanse blou, Tibettaanse blou, Versailles blou, Yslandse seeblou



KOOP BLOU

Delftblou is wyd bekend maar deesdae het daar soveel produkte op die mark gekom wat baie sigbaar is. Mense is geneig om nou na hierdie spesifieke produkte te verwys as om die korrekte blou kleur op die kleurkaarte te soek. Neem byvoorbeeld die volgende beskrywings van blou wat na ‘n produk verwys:


Bong se blou, Boeing blou, Amerika Beker blou, Bellagio blou, Bentley blou, Crayola blou, Delft Sjinese blou, Delftse blou, Dell blou, Facebook blou, Ford blou, General motors blou, IBM blou, Indiese krale blou, petrol-blou, Tiffany blou, Twitter blou, Visa blou, Wedgwood blou.



WATTER SPAN ONDERSTEUN JY?

Veral in Amerika en Brittanje hou mense daarvan om na ‘n spesifieke sportspan se kleur te verwys. Hoekom kan ons dit ook nie doen nie?

Antiguablou, Astros vlootblou, Bayern blow, Blou Bul-blou, Braves vlootblou, Broncos vlootblou, Chelsea blou, College vlootblou, Cubs blou, Dallas Cowboys blou, Dodgers-blou, Duke blou, Everton blou, Grizzlies blou, Miamiblou, Porto blou, Poubloues



BLOU IN DIE NATUUR

Dink net. Ons kry ‘n blouwildebees, ‘n blou walvis, ‘n blouaap, blousysie, blou marlyn… Noem maar op, jy kry dit onder elke spesie. Hier onder sal ek ‘n meer volledige lys gee. Die punt is: ons hou van blou. En as jy ‘n Blou Bul ondersteuner is, soos ek, hou jy by die blou – net soos Wynie.


Soos vroeër genoem, is daar in die natuur baie spesies wat met blou begin of blou in hul name het. Neem byvoorbeeld koringblom of viooltjies, wat deesdae algemeen gebruik word om ‘n spesifieke kleur te beskryf, veral oë. Miskien dalk nou nie in die diereryk nie maar is beslis die geval met blomme:


Plantlewe

Photo: Florescence Photography

aandpypie, akoniet, alikreukel, aster, bakpypie, ballonblom, bergpypie, blou dahlia, blou disa, blou gentiaan, blou krismisroos, blou Lotus, blou magrietjie, blou misstruik, blou orgidee, blou osse tong, blou salie, blou sporrie, blou ster, blou vals indigo, bloubaard, bloubessie, bloublekkie, bloublom, bloublommetjie, bloubos, bloubosbessie, bloubuffelsgras, bloudissel, blougom (bloekom), blougras, blouhaak, blouhaakdoring, bloukappie, blouklokkie, bloulelie, bloupruim, bloureën, blouriet, blouselblommetjie, blouster, bloustinkblaar, blousuikerbos, blousyselbos, bloutaaibos, bloutee, bloutulp, blouviooltjie, blouwaterlelie, bol distel, brunnera, druif hiasint, Duitse sering, geranium (ook pelargonium), grenadellablom/passieblom/kruisblom, groot klokblom, Himalaja blou papawer, iris, kleinbloulelie, klematis, klokke, komkommerkruid, koningsblou skoenlapperstruik, koringblom, krismisblom/ krismisroos, langblaar Veronica, laventel, Liefde in ‘n Mis, lobelia, longkruid, meerjarige malva/pelargonium, petunia, pronkertjies, pronkriddderspoor, pulmonarias, purperwinde/trompettertjie, ridderspoor, salie, seepkruid, Siberiese skilla, skurfkruid/speldekussing, swart-en-blou salie, vergeet-my-nietjies, woestyn blouklokkies, wolfsboontjie, ysterkruid, Zoeloespoorsalie


Visse

blou Koi, blou krap, blou kreef, blou seester/stervis, blou walvis, blou-en-goue piesangvis, bloubalk-papegaaivis, blouband snapper, blouband-doktervis, bloublasievis, bloudoktervis, blougespikkelde tamarin, blougroen-kuilvissie, blougroenchromis, blouhaai, blouhottentot, bloukeiser, bloukleintand-jobvis, bloukol-lintstertrog, bloukol-pylstert, bloukoningvis, bloukurper, bloulint-nooientjie, bloumaan-papegaaivis, bloumarlyn, blounooientjie, bloupiet, bloupylstert, blouramkoppapegaaivis, blouringseekat, blouspikkel-chromis, blouspikkel-lipvis, bloustekel-eenhoringvis, bloustert-harder, bloustreep-bokvis, bloustreep-skoonmakertjie, bloustreep-snapper, bloustreepte-pypvis, blouvel, blouvin-knorhaan, blouvin-koningvis, blouvin-tuna, blouwang-sonvis

Photo: Wix

Voëls

berg blou siala, blou dacnis, blou gaai, blou spotvoël, blou spreeu, bloubekalbatros, bloubekeend, bloubekmalmok, blougrysvlieëvanger, bloukatakoeroe, bloukeelsuikerbekkie, bloukopdrawwertjie, bloukorhaan, bloukraanvoël, bloukruissuikerbekkie, bloukuifloerie, bloukuifvlieëvanger, bloukwartel, bloupaddavreter, bloupenspapegaai, bloureier, bloustormvoël, blousuikerbekkie, blouswael, blouvalk, blouvisvanger, blouvleivalk, blouvlekduifie, blouwangbyvreter, blouwangooievaar, Eurasiese blou meesvoël, hiasint papegaai, pers heuningkruiper, persbors trilkanarie, pou


Ander spesies

blou giftige pylpadda, blou koraalslang, blou likkewaan, blou naaldekoker, blou resies slang, blou waterjuffer, blou-gestreepte kousbandslang, blouaap, bloubul, bloukopakkedis, gloukus atlanticus, Hypselodoris infucata (seeslak), Karpatiese blou slak, kobaltblou tarantula, Mandarin drakie, Menelaus blou skoenlapper, pouspinnekop, Sinai koggelmander/salamander, staalblou liewenheersbesie / skilpadbesie, Tanzaniese elektriese blou gekko/boomgeitjie/nagakkedis, Ulysses skoenlapper, verkleurende pylpadda, blouwildebees.



SPREEKWOORDE, GESEGDES EN VERGELYKINGS

Ons het heelwat spreekwoorde en gesegdes wat die woord blou bevat:

'n blou hoed ophê — beheer oor 'n situasie uitoefen.

'n bloukous - 'n geleerde vrou wat haar van huishoudelike sake losmaak.

'n bloutjie loop — afgesê word deur 'n nooi / Nie jou doel bereik nie.

‘n blou grap of blou komedie - snaaksigheid wat verwysings na taboe-onderwerpe bevat, soos seksuele of toilethumor.

‘n blou skeen kry - deur 'n meisie afgewys te word.

‘n bloutjie loop – ‘n huweliksaansoek word afgewys.

’n saak blou-blou laat — 'n saak (wat eintlik moet aangeroer word) nie bespreek nie (of dit nie afhandel nie).

as die hemel val, dra ons almal blou musse – wensdenkery.

blou bloed hê — van hoë afkoms wees.

blou film (seksfliek, smerig, pornografies).

blou hardekwasgeit.

blou hond - pelskleur wat hoofsaaklik grys of silwer is.

blou maak – verkwis.

blou Maandag — 'n dag waarop alles verkeerd loop.

blou moord skree – baie hard skree.

blou pas kry – word weg gestuur, afgedank, afgesê.

blou van die koue – kry baie koud.

blou voel - neerslagtig, teneergedruk.

blou-Maandaggevoel – asof alles verkeerd gaan.

bloubaadjie - verwys baie keer na 'n polisieman; dit is die kleur van baie polisie-uniforms.

bloubaadjie – amptelike blou uniform van ‘n gewoontemisdadiger.

blouboek (Regeringspublikasie (gewoonlik in blou omslae).

bloubottel – kasterolie.

bloudruk - konsep, plan, skema, ontwerp.

bloufilm – pornografiese film.

blouknoop -geheelonthouer.

bloukous - geleerde/intellektuele vrou.

bloulampie s.nw.- oog wat blou geslaan/gestamp is; gekneusde oog.

Blouligkonvooi, blouligkavalkade, blouligbrigade - aantal motors en/of motorfietse van verkeerspolisielede of van lede van ’n beskermingseenheid wat met flitsende ligte die weg baan vir ’n voertuig waarin ’n belangrike persoon êrens heen op pad is.

bont-en-blou - pimpel-en-pers

die blou dam — die see

die blouapiestuipe kry — onbeheerbaar kwaad wees

die blouwillebessiebliksem in wees/word – (smoor)kwaad wees/word; die duiwel in wees/raak; jou bloedig vererg

een maal in 'n blou maand — selde

geen bloue duit besit nie — absoluut niks besit nie

geen bloue duit werd wees nie - niks werd wees nie

hy het nie ‘n blou benul gehad nie – het niks geweet nie

hy laat hom nie met blou ertjies op loop jaag nie - hy word nie gou bang nie

iemand bont en blou slaan — iemand slaan tot sy lyf vol kneusplekke is

iemand die blou pas gee — Iemand in die pad steek

jy sal nie jou vingers blou tel aan geld nie – jy sal nie baie geld hê ni

lieg dat jy blou word – vreeslik lieg

praat tot jy blou word – tevergeefs pleit

tot jy blou word (of tot die perde horings kry) – dit gaan nooit gebeur nie

uit die bloute – onverwags, ewe skielik, sonder aanleiding

van blousuiker se tyd af - van lank gelede af


Photo: Wix

VERGELYKINGS

Vergelykings (party is nie baie bekend in Afrikaans nie, maar hoekom nie hulle insluit nie)

so blou soos die hemel

so blou soos die berge

so blou soos ’n vrot skaap

so blou soos ’n blousellap

so blou soos die Vrystaatse lug in die winter

so blou soos ‘n dooie se vingernaels

so blou soos ‘n borrelgom melkskommel

so blou soos Oktober-lug

so blou soos brandskilderglas / gekleurde glas / kleurglas / beskilderde glas



Ek hoop julle is geïnspireer om ook nou meer blou in jul skryfwerk te gebruik. Lewer gerus kommentaar indien julle aan nog voorbeelde soos hierdie kan dink.


Tot volgende keer


Francine


Kleure Tesourus (‘n Handige Frase-gids vir Skrywers) - Kopiereg: Francine Beaton, 2021

0 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • Instagram Social Icon
  • Blogger Social Icon
  • 2162633
  • goodreads-icon
  • Pinterest Social Icon
  • Amazon Social Icon

© 2020 by francinebeaton. All Rights Reserved.