• Francine Beaton

Kuier saam met: Elsabe Welman

Veral nou in grendeltyd is dit so moeilik vir ons lesers en skrywers om bymekaar te kom. Vandag plaas ek die eerste van 'n reeks onderhoude met ons plaaslike skrywers waarin ek ons skrywers aan julle bekend wil stel.

My kuiergas vandag is Elsabe Welman en sy was so gaaf om 'n paar van my baie nuuskierige vrae te beantwoord. Aangesien ek soveel meer oor haar geleer het, gaan ek dieselfde vrae aan al my kuiergaste vra. Tensy julle nog voorstelle het of meer vrae het. Ek is seker die skrywers sal dit graag wil beantwoord.


Vertel ons bietjie meer oor jouself

Ek bly in Weltevredenpark. Ek en liewe liefie, Anthonie is nou al vir 36 jaar getroud en ons het twee volwasse kinders. Ons dogter is getroud. Ons het 'n winkel in Randburg: Trophy Africa. Behalwe vir dit is ek rugbymal, ek lees baie, en is mal oor rekenaarspeletjies (haha).


Wat is die titel van jou jongste boek? Wat het jou geïnspireer om dit te skryf?

#vlugenterug is in Mei 2020 gepubliseer. Ek het hom ingeskryf vir 'n jeugverhaal kompetisie, nie die paal gehaal nie maar besluit om hom self uit te gee. Ek wou ook iets anders probeer as net romanse.


Hoekom het jy besluit om romanse te skryf?

Liefde is iets wat almal baie happy maak... in alle verhoudinge. Ek het al baie seer in baie huwelike gesien, en hoe sulke ongelukkigheid mense (veral vroue) afbreek. Ek wou skryf oor hoe ek dink God 'n huwelik sou wou sien... 2 mense wat mekaar respekteer, opbou, ens, ten spyte van hickup dae. Uiteindelik geld dit dus vir alle verhoudinge, nie net in die huwelik nie. MAAR: die liefde tussen 'n man en vrou... dis vir my spesiaal en ek love love-stories. Dit laat vroue lekker voel en droom, hul kan wegraak in 'n mooi liefdesverhaal. Ek bou graag 'n les in in my boeke, so tussen die leeslyne deur... hoe mens behoort op te tree, hoe mens kan verander, enige iets.


Het jy enige navorsing vir hierdie boek gedoen en as jy het, wat het dit behels?

Nie baie nie... wel oor tipe vliegtuie, watter standaardtoerusting op 'n vliegtuig moet wees. Oor swangerskap. Oor tipes vlermuise!


Hoe kies jy name vir jou karakters?

Ek het 'n arsenaal name en vanne en plekname opgebou deur die jare, en as my karakter in my kop is, soek ek 'n interessante naam in my arsenaal, wat ek dink sal pas by karakter se attitude of liggaamsbou. Soms is my arsenaal gebrekkig, dan google ek name wat begin met 'n sekere letter.


Waar kry jy jou idees vir jou stories? Organiseer jy hulle?

Van verskeie bronne. Het al meer as een keer 'n droom/nagmerrie in 'n storie omskep. #vlugenterug is die produk van 'n droom, bv. Ek luister na mense, ek hoor hulle stories, en dan spring 'n gedagte op aandag en ek skribbel die storieidee neer. Toe ek besig is met Ryk Armgat, het Filtervlinder se storielyn al in my kop gevorm. Ek het 'n lêer: storie-idees, waar ek al hierdie los idee's bêre vir die dag wat ek 'n storieidee soek. Wanneer ek dan 'n keuse maak, vat ek my idee en dagdroom... ek gee hom vleis en karakters en my storieplan neem dan vorm aan.


Hoe lank het dit jou geneem om die boek te skryf?

#vlugenterug: seker so 2 maande, voordat ek toe met redigering en proeflees begin, oor en oor. #vlugenterug is beskikbaar op Amazon.

https://www.amazon.com/gp/product/B08DRMR9ZV/



Wat kan ons volgende van jou verwag?

Klonte Sout is amper amper gereed. Ek lees 'n laaste keer deur hom. 'n Lekker love-story. Sy buiteblad is klaar. Ek hoop vir publikasie voor die einde vd jaar.







Bio:

Elsabé is ‘n plattelander van geboorte (kleine Makwassie). Sy was ʼn onderwyser, later dosent aan die destydse Technikon Pretoria waarna ander beroepe gevolg het. Skryf is 'n deeltydse passie sedert 2014. RYK ARMGAT is in 2015 gepubliseer. Afrifiksie wys haar aan as wenner van die 2016 Afrikaanse Jeugfantasie met die kortverhaal DIE ZINBALIPOORT, en in 2017 weer met GIFGOLWE in dieselfde kategorie. Haar roman, FILTERVLINDER, is in 2017 aangewys as naaswenner in Malherbe Uitgewers se roman kompetisie. Elsabé se werk word geken aan ʼn kombinasie van romanse en spanning in ʼn maklike en boeiede skryfstyl. As jy meer wil weet oor Elsabe, kan jy haar hier volg:

Webblad: www.elsabewelman.co.za

Facebook: https://www.facebook.com/elsabewelmanskrywer/

Twitter: @elsabeskryf

https://www.amazon.com/Elsabe-Welman/e/B08DMRBV7W/



#vlugenterug #afrikaans #elsabewelman #boekblogvirdieliefde #Afrikaanseskrywers #Suid-Afrikaans #skryf #romanse

1 view0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • Instagram Social Icon
  • Blogger Social Icon
  • 2162633
  • goodreads-icon
  • Pinterest Social Icon
  • Amazon Social Icon

© 2020 by francinebeaton. All Rights Reserved.